Wat sterk gesinne doen – Deel 4: Positiewe kommunikasie

By Philip Voigt2 min read

Sterk gesinne praat mét mekaar — en, nog belangriker, hulle luister regtig na mekaar. Om te luister is om respek te betoon.

Wat sterk gesinne doen – Deel 4: Positiewe kommunikasie

Positiewe kommunikasie

Hoeveel aande van die week eet julle saam aan tafel?

Sterk gesinne praat met mekaar. Hulle gesels oor die gewone dingetjies van elke dag — die oop-einde-gesprekke, sommer net saam kuier. Daarom is hulle in voeling met mekaar, en so in die gesels kom interessante dinge uit en word familie-dingetjies uitgesorteer.

Daar is ’n waardering vir die spontane gesprekke — soos wanneer kleiner kinders oor hulle gevoelens wil gesels wanneer hulle in die bad is of bed toe moet gaan. Dan word daar gesels! Sterk gesinne gesels ook oor die dieper dinge van die lewe — gevoelens en oortuigings, vrese en drome. Die gesin is ’n veilige plek waar kinders met vrymoedigheid, sonder vrees, ook die ongemaklike emosies kan deel.

Hulle praat ook oor die moeilike dinge. As daar ’n saak is wat bespreek moet word, is die kommunikasie op die saak gefokus; die probleem word geïdentifiseer en dan word saam oor die oplossing besluit.

Wat maak positiewe kommunikasie moontlik? Hulle luister regtig na mekaar. Om na mekaar te luister is om respek te betoon — respek vir elkeen se emosies, opinie en geluk. “Ek luister, want hoe jy voel en hoe jy dink is vir my belangrik. Ek wil jou graag verstaan.”

Respek is ook om iemand wat nie wil praat nie, so te respekteer. Veral tieners wil nie altyd praat nie — maar julle kan steeds saam wees en saam dinge doen. Dit is daardie saamwees wat nodig is vir wanneer hy of sy gereed is om te praat.

’n Laaste gedagte: wees ook ingestel op nie-verbale kommunikasie. ’n Drukkie, ’n soen en oogkontak sê “ek wil naby aan jou wees”. Ons leef in ’n wêreld waarin mense eerder praat as luister — daarom is mense so min in voeling met mekaar. In sterk gesinne word geluister én gepraat. We are one — we are family!