Wat sterk gesinne doen – Deel 6: Hanteer ’n krisis

By Philip Voigt2 min read

Sterk gesinne is nie immuun teen moeilike tye nie — maar hulle val nie uitmekaar nie. Positiewe kommunikasie en ’n positiewe gees tel in hulle guns.

Wat sterk gesinne doen – Deel 6: Hanteer ’n krisis

Hanteer ’n krisis

Wat was die grootste krisis in julle gesin? Hoe het julle daardeur gekom?

Sterk gesinne is nie immuun teen moeilike en uitdagende tye nie — geen gesin is nie. Die krisisse wat oor gesinne se pad kan kom, sluit in dood, siekte, finansies, konflik in verhoudings en werksverlies. En krisisse gaan gepaard met sterk emosies: woede, angs, skuldgevoelens en vrese. Tog val sterk gesinne nie as gevolg van krisisse uitmekaar nie — hulle bly by mekaar en staan saam.

In krisistye tel veral twee dinge in sterk gesinne se guns. Die eerste is positiewe kommunikasie: hulle praat met mekaar en luister na mekaar. Hulle haal nie hulle frustrasies, spanning en vrese op mekaar uit nie. Omdat hulle praat, is hulle in voeling met mekaar en kan hulle ondersteun soos elkeen dit nodig het — en hulle put krag uit mekaar. So los hulle saam die probleem op; elkeen lewer ’n bydrae. Dit maak hulle ook meer aanpasbaar, want soms moet dinge ná ’n krisis anders gedoen word.

Die tweede is die positiewe atmosfeer in daardie gesinne. Dit bring ’n positiewe ingesteldheid: “Ons kan hierdie ding doen; ons kan hierdeur gaan.” Hoor die ons!

Sterk gesinne is ook minder geneig tot krisisse, want dit gaan goed daar — en hulle sien moeilikheid kom en doen betyds iets daaraan. Waar interpersoonlike krisisse wél opduik, wil niemand wen of verloor nie — dit moet ’n wen-wen wees. Daar word vergewe, daar is hope geduld, en daar is genade met mekaar.

’n Laaste gedagte: sterk gesinne weet wanneer om hulp te vra. Elke mens en elke gesin het sy grense. Sterk gesinne kan hulp vra omdat hulle ’n sterk ondersteuningsisteem het — hulle is nie alleen nie. Die kerk, vriende, uitgebreide familie en professionele hulp is beskikbaar. En dan natuurlik God — sterk gesinne draai na God.