Wat sterk gesinne doen – Deel 1: Die ses eienskappe
Wat maak ’n gesin sterk? Dit gaan oor hoe ’n gesin funksioneer, nie hoe hy saamgestel is nie. Hier is die ses eienskappe van sterk gesinne.

“Family is not just an important thing. It’s everything.”
“The love of a family is life’s greatest blessing.”
“It just feels good to be part of a warm and loving family.”
Gesin beteken ondersteuning, onvoorwaardelike liefde, sekuriteit, nie alleen wees nie, waardes, vriendskap, raad, begrip, hoop, aanmoediging, geloof, verhoudings, positiwiteit — en die lysie gaan aan. Dit is dinge wat ’n mens diep gelukkig maak, ten spyte van dit wat in jou lewe gebeur. Dit gee ’n diep gevoel van persoonlike waarde en tevredenheid.
In gesinne met positiewe verhoudings voel kinders veilig, geliefd en omgegee. Dit gee hulle die selfvertroue om die wêreld te ontdek en nuwe dinge te probeer en te leer; dit laat hulle toe om hulself te wees en hulself te leer ken; dit help hulle om terugslae en teleurstellings beter te hanteer, omdat daar ’n gesin is wat ondersteun. Hulle omgewing is voorspelbaar en georganiseerd — hulle weet wat om te verwag en wat van hulle verwag word. Dit leer kinders die vaardighede om self in gesonde verhoudings te kan staan.
Die kern van gesinne met positiewe verhoudings is dat hulle saam goed funksioneer, bevredigende verhoudings met mekaar het, ’n positiewe emosionele konneksie het en ’n gevoel van behoort het.
Dit gaan hier oor hoe ’n gesin funksioneer, nie oor die struktuur van ’n gesin nie. Gesinne kom in baie verskillende vorme — enkelouer-gesinne, uitgebreide gesinne, kerngesinne, hersaamgestelde gesinne. Dit is hoe ’n gesin funksioneer, nie hoe hy saamgestel is nie, wat hom sterk maak of nie.
Die ses eienskappe van sterk gesinne is:
- Waardering en warmte
- Toewyding
- Positiewe kommunikasie
- Lekker tye saam
- Effektiewe krisisbestuur
- Geestelike gesondheid


