Wat sterk gesinne doen – Deel 2: Waardering en warmte

By Philip Voigt2 min read

Elkeen wil waardeer word. Waardering laat ’n mens geliefd en veilig voel — en dit versterk die gesinsband. Hier is drie maniere waarop waardering wys.

Wat sterk gesinne doen – Deel 2: Waardering en warmte

Waardering en warmte

“Family is not just an important thing. It’s everything.”
“The love of a family is life’s greatest blessing.”
“It just feels good to be part of a warm and loving family.”

Wat is waardering in verhoudings? Dit is om waarde te heg aan iemand — om dankbaar te wees, en opgewonde oor ’n spesifieke persoon in my lewe. Moeder Teresa het gesê daar is ’n groter honger in die wêreld na liefde en waardering as na brood. Elkeen wil waardeer word!

Wat doen waardering aan ons? Waardering laat iemand geliefd, gerespekteer en veilig voel — dit gee emosionele sekuriteit. Dit inspireer en motiveer ’n mens om te groei, te leer en beter te wees, en dit bou die selfbeeld. Kinders wat waardeer word, voel spesiaal — wat hulle baie help met die lewe wat op en af kan wees. Waardering versterk die gesinsband, skep vertroue en bind gesinslede diep emosioneel aan mekaar.

Wat word waardeer? Wat iemand is — die uniekheid van elkeen, talente, persoonlikheid en temperament. En wat iemand doen — help, ondersteun, en meer.

Waardering moet wys — daar is drie maniere:

1. Waardering wys in ’n positiewe ingesteldheid teenoor mekaar, ’n opgewondenheid oor mekaar, in hoe ons mekaar hanteer en in mekaar belangstel, en in intensionele ondersteuning en aanmoediging. Waardering word gewys wanneer ons mekaar vertrou, en dit word gedryf deur ’n diepe liefde vir mekaar.

2. Waardering word gesê: “Dankie.” “Ek is lief vir jou.” “Ek sien jou uniekheid raak.” Erken mekaar se verskille, talente en vermoëns. Waardering is nie bang om dit gereeld te doen nie, en sê: “Ek glo in jou.”

3. Waardering word gedoen — wanneer ons mekaar se aktiwiteite bywoon omdat ons in mekaar se lewens belangstel; wanneer ons saamgesels, met mekaar glimlag, in mekaar se oë kyk en na mekaar luister; wanneer ons een-tot-een geleenthede skep vir gefokusde aandag; wanneer ons dinge doen wat almal geniet, saam lag en speel; en wanneer ons mekaar se pogings én suksesse erken. Ons gee maklik erkenning vir suksesse, maar nie vir effort nie — en dit is dikwels baie belangriker om effort te erken.