Wat sterk gesinne doen – Deel 5: Lekker tye saam
Gevra wat ’n gesin gelukkig maak, sê die meeste kinders: om dinge sáám te doen. Lekker tye saam versterk die band en bou ’n gesins-identiteit.

Lekker tye saam
Die geheim van positiewe kommunikasie in sterk gesinne is hulle gewilligheid en vermoë om regtig na mekaar te luister. Om te luister is om respek te betoon — en respek bring vrymoedigheid en eerlikheid.
In ’n studie met 1 500 kinders is gevra: “Wat dink jy maak ’n gesin gelukkig?” Min het geld, ’n kar, ’n mooi huis of ’n groot televisie genoem. Die meeste kinders het gesê ’n gelukkige gesin doen dinge saam met mekaar, en geniet regtig die tye saam.
Doen dinge wat vir jou gesin lekker is, waaraan elkeen entoesiasties kan deelneem. Nie almal is mal oor bordspeletjies nie — maar as daar iemand is wat daarvan hou, dan speel almal entoesiasties saam. As iemand van stap hou, gaan stap almal saam. En as iemand iets doen waaraan die ander nie kan deelneem nie, is die res daar om te ondersteun en aan te moedig. Julle kan ook spanwerk doen: saam kosmaak, saam in die tuin werk, of ’n ander gesin oornooi vir ’n kompetisie — en dan net ok wees as julle dalk verloor!
Lekker tye saam vra tyd, en dus ’n bietjie beplanning. Vir baie gesinne is tyd ’n groot uitdaging; hulle is gejaagd en gestres. Daardie gesinne moet weer gaan dink oor wat regtig belangrik is. Maar lekker tye hoef nie altyd beplan te word nie — dit gebeur ook spontaan, en dikwels is dít die lekkerste. Maak die meeste van daardie oomblikke. En onthou: pret kan soms morsig wees. Moenie dat jou behoefte aan netheid die pret bederf nie.
Lekker tye saam versterk en verdiep gesinslede se band, verbeter kommunikasie, en bou ’n sterk gesins-identiteit: “Ek is deel van ’n span, en ons is a mean team!” Julle uitdaging vir die week: skep ’n paar lekker tye saam. Ouers moet die inisiatief neem en die dinge laat gebeur.


